Fiksie
Dramas

Results 1 to 15 of 29
Gesorteer volgens:  Publikasiedatum
Klik om te vergroot
9780624084389

Liewer

R 180
“Die liefde is ʼn vreemde ding. Dit bestaan net as jy daarin glo.” 

Vier uiteenlopende karakters se lewens word met 'n ironiese sameloop van omstandighede vervleg. Kort voor lank is hulle in 'n web van liefde, leuens en verraad. In Liewer word daar na die onpeilbare aard van die liefde in sy verskillende vorme gekyk.

Tertius Kapp bewys met Liewer opnuut waarom hy 'n Hertzorg-pryswenner is.
Publikasiedatum: 2017-11-30
Klik om te vergroot
9781485306528

Die dag is bros / Sandton City grootdoop

R 180
Twee dramas oor familie, verhoudings, vergifnis en herinneringe. Wat bybly, is dat mense maar net mense is. Dat versoening deel van menswees is. Dat stukkende mense mekaar kan help heel word en dat familie tog familie bly - ondanks omstandighede, persoonlike keuses en uitdagings.

Sandton City grootdoop
'n Drama oor 'n ma en haar twee dogters wat vir die eerste keer in 'n lang tyd bymekaarkom om die oudste, Danél, se verjaardag in Sandton City te vier. In die proses begin die trio mekaar se verlede, gevoelens en emosies oopkrap met eerlike, en snaakse, oomblikke.
Kara, die ma, is die aktrise wat haar man en kinders op 'n jong ouderdom verlaat het om haar groot droom om wêreldberoemd te word, na te volg. Sy erken dat sy nie bevoeg of beskore was vir moederskap nie, maar probeer tog om tot hulle deur te dring en hulle vertroueling te wees. Haar oudste dogter, Danél, is bipolêr en bly na 'n onlangse selfmoordpoging weer by haar ma. Sy is naïef en emosioneel en val maklik vir haar ma se manipulasie.
Haar suster, Lisa, is gay en verwyt haar ma dat sy nog niks met haar lewe gedoen het nie. Sy is kwaad en kras en wil graag haar ma skok met haar uitlatings oor seks, maar 'n mens kom agter dat sy eintlik baie kwesbaar is.

'Die minimalisme van die stuk bind jou en hou jou vasgenael tot die einde.' Leonie Bezuidenhout
'Dit is galbitter, snaaks en bitter seer in ewe maat, 'n driekuns wat Pretorius keer op keer regkry. Jy lag, maar jy weet jy moet eintlik ween.' - Leatitia Pople

Die dag is bros
Dis laatmiddag. Elsa, voorheen 'n lektor in Afrikaanse letterkunde, berei 'n driegangmaaltyd voor vir Brian se verjaarsdag. Hy was 'n jeugmisdadiger wat 'n tweede kans gegun is onder Elsa se vlerk. Sy stel hom bloot aan Sheila Cussons en hy vul 'n leemte in haar lewe. Tussendeur word daar speletjies gespeel met Tertius - die vreemde kind wat kersiebloeisels aandra uit Japan. Voor die kos koud kan word sal die dag 'n ingrypende wending neem.

Die Dag is Bros is benoem vir 'n Fiësta as beste nuutgeskepte Afrikaanse produksie.
Publikasiedatum: 2017-03-01
Klik om te vergroot
9781485304333

Post mortem

R 150
Drie hopies grond van drie grafte en die drie mense aan wie die grafte behoort: Vytjie, Basjan en Gulu. Elkeen moet vertel hoe hy of sy aan sy dood gekom het. Trien is die sameroeper van hierdie byeenkoms na die dood. Sy behartig die post mortem. Hoe het dit gebeur dat haar man, haar huiswerker en plaaswerker dood is?
In hierdie drama deur Pieter Fourie moet Basjan, Vytjie en Gulu aan Trien vertel en demonstreer wat gelei het tot hul dood. Dit word duidelik dat Trien se pienk pilletjies haar blind gemaak het vir die dinge wat rondom haar gebeur ...
Publikasiedatum: 2016-10-01
Klik om te vergroot
9781485302537

Land van skedels

R 150
Die drama fokus op die ervaring van vroue in konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog en het verskeie toekennings ontvang, onder andere die Fiësta vir teaterontwerp en beste nuwe Afrikaanse produksie.
Teatergenie, noem resensente haar. Dramaturg, vervaardiger, aktrise. Sy het Afrikaanse teater in die holte van haar hand, die 'ongelooflik talentvolle' Nicola Hanekom. - Hanlie Retief
Nicola Hanekom vang die gehoor se aandag van die begin en weier om dit te verloor. Sy hou die verskillende storielyne mooi bymekaar totdat dit saam opeindig. Nicola oortuig jou terwyl sy jou skok. Jy is spraakloos as jy uitstap. Geskok, maar ook hulpeloos. Die toneelstuk is 'n meesterstuk met Nicola die bes moontlike skilder. - James de Villiers
Nicola het haar Diploma in Drama aan die Universiteit Kaapstad ontvang en beskou haarself meer as 'n aktrise as 'n skrywer. Hoogtepunte in haar loopbaan is haar vertolking van Ingrid Jonker in 'Altyd Jonker' en haar vertolking van Beatrice in die film ' Faan se Trein'. Op die kassie was Nicola al te sien in baie reekse. Sy wen 'n Fleur du Cap- toekenning en 'n Standard Bank Golden Ovation toekenning vir haar spel in haar eenvrouvertoning 'Hol'. Vir haar trilogie van plekspesifieke teater (' Betésda', 'Lot' en 'Babbel') ontvang sy altesaam elf Kanna-toekennings en vier Fiësta-toekennings. Sy het reeds ook twee ATKV- Woordveertjies ontvang vir Beste Dramateks vir 'Babbel' en 'Trippie'.
Publikasiedatum: 2015-10-01
Klik om te vergroot
9781485302568

Samsa-masjien

R 160
Samsa-masjien tree in gesprek met Franz Kafka se 'Die Verwandlung' Dit vertel die storie van die insekwording van Gregor Samsa sr. Gregor, in sy sewentigs, is 'n afgetrede biologie-onderwyser, skoolhoof en was ook klavierstemmer in sy jongdae. Hy ly aan dementia en as gevolg daarvan bly hy en Josephine by hul dogter, Grete en haar man Tjaart, in hul luukse, moderne huis in 'n woonbuurt soos Sandton.
Soos die Gregor van die Kafka-verhaal, ondervind Gregor 'n stelselmatige insekwording, wat deur die sielkundiges, psigiaters en dokters toegeskryf word aan die ouditiewe en taktiele hallusinasies van dementia-lyers. Gregor sien oral insekte, voel hulle loop op hom en voel homself uiteindelik 'n insek word. Stelselmatig beweeg die ouerpaar uit die huis uit na die kelder waar hulle 'n geraasmasjien (soos dié van die Futuriste) begin bou uit skroot en rommel.
Klank en musiek is sentraal tot die stuk. Dit dien as deurlopende metafoor en is daarom as 'n CD ingesluit in die publikasie. Die komponis Pierre-Henri Wicomb was verantwoordelik vir die klankbaan.
Publikasiedatum: 2015-06-01
Klik om te vergroot
9780798164078

Stukke teater

R 325
Hierdie bundel bevat vyf van Pieter-Dirk Uys se Afrikaanse dramas wat by verskyning aandag getrek het oor Uys se se satiriese uitbeelding van en kritiek op die apartheid-stelsel, nl. Selle ou storie, Karnaval, Die Van Aardes van Grootoor, Panorama en die Die vleiroos. Die selle ou storie en Karnaval is destyds deur die Publikasieraad verbied.
Publikasiedatum: 2015-04-01
Klik om te vergroot
9781485301844

Die vrou wat alleen bly: Twee draaiboeke

R 180
By geleentheid van die gevierde skrywer Karel Schoeman se 75ste verjaardag in Oktober 2014 publiseer Protea Boekhuis twee televisiedraaiboeke, wat, hoewel hulle geruime tyd gelede reeds geskryf is, nie voorheen gepubliseer is nie. In die voorwoord tot die twee draaiboeke meld Karel Schoeman dat die twee draaiboeke in 1985 ontstaan het, toe daar bewerkings van sy romans verfilm is. Die twee dramatekste sou miskien eerder as leestekste en nie as speeltekste nie beskou kon word, maar Schoeman sluit nie die moontlikheid van verfilming uit nie. Hy skryf verder: 'Die betrokke manuskripte het onlangs aan die lig gekom nadat ek gemeen het dat dit lankal nie meer bestaan nie, en word nou gepubliseer soos hulle geskryf is, aangesien dit nie sinvol gelyk het om ná verloop van meer as 'n kwarteeu nog daaraan te probeer verander of verbeter nie.'
Die eerste van die twee tekste, ''n Vrou wat alleen bly', speel op 'n klein plattelandse dorpie af. Dit handel oor die raaiselagtige skietdood van 'n geliefde dominee en oor die versteuring van verhoudings tussen mense wat mekaar reeds lank ken wanneer 'n nuweling die gemeenskap binnekom. Die tweede teks, 'Hiér was huise, hiér 'n pad' speel in 1908 af in en om 'n hotelletjie aan die Suid-Kaapse kus. In hierdie draaiboek bevind 'n aantal uiteenlopende karakters hulle toevallig en kortstondig in mekaar se geselskap. Sommige van die karakters reik huiwerig na mekaar uit, maar die verhoudings wat ontstaan, bly vervlietend.
Soos in 'n Tsjechow-drama toon Karel Schoeman in hierdie twee tekste watter intensiteit daar in klein menslike gebare, huiwerende gesprek en versigtige uitreik na ander kan lê.
Publikasiedatum: 2014-12-01
Klik om te vergroot
9781485300595

Die pad byster

R 150
Die pad byster bevat twee van Nicola Hanekom se grensverskuiwende dramas, Hol en Trippie wat verskeie benoemings gekry het by KKNK en Aardklop.
Publikasiedatum: 2014-04-01
Klik om te vergroot
9780798164047

Die laaste karretjiegraf

R 210
"Athol Fugard het met die koms van sy tagtigste verjaarsdag besluit om 'n toneelstuk in sy ma se moedertaal te skryf, soos sy hom jare gelede gevra het. Met behulp van Riana Steyn se kennis en navorsing oor die karretjiemense het hierdie toneelstuk tot stand gekom.

Dit is die verhaal van die Geduld-gesin, wat, na die dood van hul ouma Mieta, haar in die Karoo-veld onder klippe begrawe, soos die gebruik onder die karretjiemense is. Haar kleinkinders se enigste vooruitsig blyk die plakkerskamp naby Colesberg te wees. Hul pa, Koot, was op sy dag die voorste skaapskeerder, maar nou is hy in die tronk vir die moord op hy sy tweede vrou. Na sy vrylating spoor Sarah, 'n navorser wat jare gelede met die gesin te doen gehad het, hom op. Saam neem hul bestekopname van die karretjiemense se verlede en toekoms."
Publikasiedatum: 2013-09-01
Klik om te vergroot
9781869199425

Aantrekkingskrag - 'n drama vir die verhoog

R 150
Aantrekkingskrag is 'n kosmiese wet wat sowel vir hemelligame as vir mense geld. Deon Opperman buit hierdie volgehoue metafoor op 'n verbluffende wyse uit in 'n meesleurende drama oor die liefde. Vyf mense word een laatnag, ná 'n opvoering van Hamlet, gekonfronteer met hulle bestaan en verraad teenoor mekaar. Die wêrelde van die wetenskap en die kuns word aanvanklik met mekaar gekontrasteer, maar ten slotte versoen in die volgende insig: 'Religie is so onwetenskaplik, maar elke religie op aarde het tot die besef gekom: God is liefde. Liefde - alomteenwoordig soos die aantrekkingskrag tussen alles in die heelal, so onkenbaar soos 'n atoom, en so seker soos die spoed van lig.'
Publikasiedatum: 2013-07-01
Klik om te vergroot
9780624017592

Die Rebellie Van Lafras Verwey

R 138
R 29Jy spaar R 109
Chris Barnard se bekroonde hoorspel gaan oor Lafras Verwey, 'n klerk in die staatsdiens. Sy baas roep hom gedurig in. Sy kollegas treiter hom.
Almal wat hom ken, dink hy's 'n opperste sukkelaar. Maar wat hulle nie weet nie, is dat hy een van die geheime agente van die revolusie is. Soos hy aan Petra verduidelik: "Ons gaan alles afmaai. Al die grootmenere. Al die ekstra spesiale kokkedore wat die wette gemaak het; al die ringkoppe wat op ons gewone ouens trap en die wêreld se geld onder hulle vet basse muf broei. Terwyl ons ouens wat die vuil werk doen in losieshuise moet bly. En met trapfietse moet kom waar ons wil wees - ons gaan die wêreld weer maak soos hy was - toe elke ou nog 'n kans gehad het."
Publikasiedatum: 2012-06-01
Klik om te vergroot
9781869194093

Skrapnel

R 165
Skrapnel is 'n boeiende drama oor twee jong Suid-Afrikaners in Londen: 'n meisie wat bejaardes oppas en 'n man wat as sekuriteitswag by 'n winkelsentrum werk. Hulle ontmoet in 'n jeugherberg en knoop 'n verhouding aan. Die man sterf op 7 Julie 2005 in 'n selfmoordbomaanval in die Londense metro.
Publikasiedatum: 2011-09-01
Klik om te vergroot
9781869195922

Vrededorp

R 150
Charles J. Fourie se Vrededorp handel oor die geboorte van die Nuwe Suid-Afrika in 1990 en 1994. Dit is egter nie net 'n poltieke drama nie. Die oortuigende en diepgaande karakteruitbeelding sorg dat dit 'n algemeen menslike trefkrag het.
Publikasiedatum: 2011-09-01
Klik om te vergroot
9781869194475

Johnny is nie dood nie

R 150
'Ons vier 'n wonderlike tyd wat goddank verby is.'
Vier vriende hou 'n partytjie kort ná Johannes Kerkorrel se selfmoord in 2002. So kan hulle weer hulle studentedae op Stellenbosch in die tyd van die Voëlvry-toer herleef. Hulle was deurdrenk van die protesmusiek van Kerkorrel, André Letoit en Bernoldus Niemand. Toe was hulle jonk, dronk en rebels. Nou is hulle voorstedelik en ontnugter. Die dood van hulle universiteitsvriend Johnny bly egter nog 'n raaisel - iets wat al vier steeds ná al die jare teister.
Publikasiedatum: 2011-07-01
Klik om te vergroot
9781415402894

Droomskip en ander radiodramas met MP3

R 256
Droomskip en ander radiodramas is die eerste radiodramabundel waarby die hoorspele (op CD in MP3-formaat) by die teks ingesluit word. Die ses radiodramas in hierdie bundel is werk deur bekroonde en bekende skrywers en dit sluit onlangse wenners van die RSG/Sanlam-Radiodramaskryfkompetisie in. Dit bevat die tekste met inleidende agtergrondinligting oor elke drama, woordverklarings van unieke woorde en streektaal en besprekingsvrae.
Publikasiedatum: 2009-09-01

© All Rights Reserved 2017
A Product of CEIT Development