’n Versameling genotvolle essays geskryf vir Rhynie Greeff se vermaaklike rubriek, Brief uit Brittanje, wat sedert 2005 in verskeie Afrikaanse koerante verskyn het. Die boek dek, onder andere, amusante verbintenisse met Suid-Afrika, satiriese stukke soos ’n gesprek met Charles Dickens en komiese stories oor die vorstehuis, ’n seksmiljoenêr, ’n fisantejag en ’n F.W. de Klerk-gholfbaan in Brittanje.
Meer inligting: Grappige en soms oneerbiedige stukke oor politici, klimaatsverandering, geheime agente en sport word getemper met dieper insig oor rolspelers soos die Suid-Afrikaner wat die vader van die moltreinstelsel was, die beroemde vlieënier Sailor Malan en die Brit wat in 1910 met Uniewording ’n twee dae lange straatskouspel in Kaapstad met 6 000 deelnemers aangebied het. Die stories wyk ook uit na Doebai, Switserland en die VSA, en daar is oorgenoeg verskeidenheid om die leser geïnteresseerd te hou. Die speelse humor maak die boek ontspannend en onweerstaanbaar, maar dit is ook leersaam en prikkelend. Dis ’n heerlike leeservaring vir oud en jonk.